Na ses jaar hier op Lizzie se Klip het dit tyd geraak dat hierdie soutie nou huistoe kom en laer trek daar in die skadu van die Campanile.Die presiese datum van die Groot Trek is nog nie heeltemal bepaal nie, maar my verkenner is Dinsdag al uitgestuur en die transport-wa vertrek Saterdag met my goed. Ek gaan eers 'n draai in Rome maak voor ek terugkom, maar as dinge goed uitwerk, kom ek die langpad terug. Julle kan op my travel website gaan kyk of ek dit gemaak het of nie. Ek moes 'n ander website oopmaak sodat al my vriende kan verstaan wat ek sê (want sommige kla mos as ek die Rooi Taal gebruik; snaaks genoeg, rooi is ook die kleur van die klaer neus...)
Dit voel soos gister toe ek en my goeie vriend Johann by PE Lughawe op daai vliegtuig geklim het. Maar tussen gister se gaan slaap en vandag se opstaan, het Vader Tyd 'n leeftyd ingedruk.
In die jaar 2000 het Bobby nog rugby gespeel en 7e Laan was nog nie eens op TV nie. Deesdae deel Bobby tydens Bok toetse sy rugbykennis met mense op SkyTV en 7e Laan het in 'n doodloop straat verander. Bobby se rugby kommentaar laat my baie aan Zanberg Jansen dink. Nie die kwaliteit daarvan nie, maar net soos "Ou Grote", is Nick Mallet seker die enigste een wat 'n idee het waarvan Bobby praat.
Nou gaan ek terug. Terug na 'n land waar "the people's champion" iemand is wat glo dat die oplossing van die grootse pandemic in Afrika, asook van ons generasie, 'n lekker warm stort is. Waar daaglikse moord, roof en verkragting nuusberigte meer volop is Graeme Smith se lopietelling in die laaste toets.
Hoekom? Want ek wil vir 'n slag weer 'n rugby toets saam met my pa kyk en die volgende dag tussen Suid-Afrikaners wees as die Bokke verloor.
Gaat je geweldig.





