Thursday, May 25, 2006

Jantjie kom huis toe...

Lank vergete is die dae van tuna & pasta! Na ses jaar hier op Lizzie se Klip het dit tyd geraak dat hierdie soutie nou huistoe kom en laer trek daar in die skadu van die Campanile.

Die presiese datum van die Groot Trek is nog nie heeltemal bepaal nie, maar my verkenner is Dinsdag al uitgestuur en die transport-wa vertrek Saterdag met my goed. Ek gaan eers 'n draai in Rome maak voor ek terugkom, maar as dinge goed uitwerk, kom ek die langpad terug. Julle kan op my travel website gaan kyk of ek dit gemaak het of nie. Ek moes 'n ander website oopmaak sodat al my vriende kan verstaan wat ek sê (want sommige kla mos as ek die Rooi Taal gebruik; snaaks genoeg, rooi is ook die kleur van die klaer neus...)

Dit voel soos gister toe ek en my goeie vriend Johann by PE Lughawe op daai vliegtuig geklim het. Maar tussen gister se gaan slaap en vandag se opstaan, het Vader Tyd 'n leeftyd ingedruk.

In die jaar 2000 het Bobby nog rugby gespeel en 7e Laan was nog nie eens op TV nie. Deesdae deel Bobby tydens Bok toetse sy rugbykennis met mense op SkyTV en 7e Laan het in 'n doodloop straat verander. Bobby se rugby kommentaar laat my baie aan Zanberg Jansen dink. Nie die kwaliteit daarvan nie, maar net soos "Ou Grote", is Nick Mallet seker die enigste een wat 'n idee het waarvan Bobby praat.

Nou gaan ek terug. Terug na 'n land waar "the people's champion" iemand is wat glo dat die oplossing van die grootse pandemic in Afrika, asook van ons generasie, 'n lekker warm stort is. Waar daaglikse moord, roof en verkragting nuusberigte meer volop is Graeme Smith se lopietelling in die laaste toets.

Hoekom? Want ek wil vir 'n slag weer 'n rugby toets saam met my pa kyk en die volgende dag tussen Suid-Afrikaners wees as die Bokke verloor.

Gaat je geweldig.

Thursday, May 04, 2006

Friends, Expats, Aliens...

Umhlobo Wenene...
Vandag is plaaslike verkiesings hier op Lizzie se Klip.

Mense van wie ek nog nooit gehoor het nie los vir my briefies waarin hulle vir my sê dat hulle my beste pêl is; hulle weet waar my pyne is en hulle sal hulle bes doen om my pyne weg te vat - trek asseblief net 'n kruisie langs hulle naam.

Die meerderheid mense is maar baie apaties as dit by politiek kom. Hulle gee nie regtig om wie aan bewind is nie, solank dit nie hulle dag-tot-dag lewens beinvloed nie (die NP het dit vir jare reggekry deur die mense te laat glo dat hulle die enigste beskerming teen die Swart- en Rooi Gevaar is). Daarom is dit seker nie te vergesog om te dink dat die mense wie se lewens die meeste deur 'n politiese party se beleid beinvloed gaan word , dieselfde mense is wat gaan stem nie.

Dis nou al my 4e verkiesings veldtog waar Tories, Labour, Lib Dems en die UK weergawe van die ou HNP, my gat blink lek om vir hulle te stem want sien, as jy 'n landsburger van 'n Statebond-lid is, mag jy ook stem - en hierin lê die ironie, want in die afgelope week, was die grootste politiese knelpunt die Immigrasie Wette. Charles Clarke is nou al die tweede Home Office Secretary wat onder druk is om te bedank a.g.v 'n immigrasie verwante saak - in een termyn!

So as die party se beleid strenger Immigrasie wette en jy Suid-Afrikaner, Australiër, Kiwi, Sri-Lanker, Pakistani, Indiër, Zimbabweër, Nigeriër, Wes-Indiër, Kenyaan, Tanzaniër ens, ens, is?

Vir wie gaan JY stem?

Gaat je geweldig!

Friday, April 28, 2006

Ons sal lewe, ons sal swerwe...

Always rehydrate when traveling...
Die eerste keer wat ek Doha toe was, was 'n maand of twee nadat 'n bom by 'n hotel naby die Britse Ambassade ontplof het. Die oomblik toe ek van daardie vliegtuig afgeklim het, het ek orals om my "Stryders vir Islam" gesien. Dit was eers na 'n paar dae dat die skille van jare se blootstelling aan Westerse media, van my oë afgeval het en ek besef het dat daar nie 'n AK onder die wit gewade verskuil is nie en dit is hoe die mense normaalweg aantrek.

Dink mens weer aan gebeure soos 9/11 of die onlangse bom aanvalle in Dahab, dan word die saad van bevooroordeling weereens geplant en jy wonder by jouself hoe naïef mense kan wees om te dink dat hulle 70 maagde (eintlik is dit 72, maar ek dink die ou wat die hele konsep aan die "martelaars" verkoop het, kry 'n kommissie) in die hiernamaals sal hê as hulle 'n vlooimark vol handelaars, kinders, toeriste (en hulself in die proses) gaan opblaas; daai sade word dan bome wat vrugte dra en voor jy jou kan kry, gaan skyt die voëls in 'n ander werf en daar begin 'n heel nuwe boompie groei.

Ek kan insien hoe die verloop van jare sedert die Eerste Kruistog geloof, nasionalisme, vervolging en onderdrukking die Midde Ooste in 'n kookpot van een globale f**op verander het en dat daar nie 'n maklike oplossing is nie. George Bush se Roadmap for Peace in the Middle East, kan net so maklik 'n analogie van Hitler se Mein Kampf wees en selfs dan is die onderskeiding tussen die Westerse en die Oosterse ideoloë bietjie dof; as mens so na die media uitlatings van die Iranese president kyk, is dit maklik om te glo dat hy self onlangs 'n kopie van Endlösung der Judenfrage onder oë gehad het.

Tog kan ek nie anders om te dink dat leiers soos George Bush en Mahmoud Ahmadinejad maar net soos hoenders op hulle eie mishope is nie. Die meerderheid van ons loop rustig tussen die mishope deur en skrop oor die hele werf rond, tevrede met 'n nuwe identiteit as "wêreldburgers" en werk die hele wêreld oor. Die laaste keer toe ek Die Beeld gelees het van minder as 'n dag oud, was 5 weke gelede op Dubai lughawe terwyl ek gewag het vir my konneksie vlug terug na die UK nadat ek in Qatar was vir 'n projek names 'n Britse Regerings-departement.

En die werf het nou nog groter geraak vir my, want deesdae waai ek saam met ander Suid-Afrikaners soos die Du Toit's, Steyns en Slabbers, my splinternuwe rooi/pers dompas onder die Immigrasie Beamptes op Heathrow se neuse...

Gaat je geweldig!

Monday, March 13, 2006

In die voetspore van die Yeti

Sneeu is harder as wat mens dink...
Sneeu en ys is nie juis iets waarmee die gemiddelde Suid-Afrikaner bekend is nie; inteendeel, dit is grotendeels 'n eienaardigheid. Die enigste rede hoekom die jaarlikse Cederberg Sneeu-smurfie-bou kompetisie gehou kan word, is as gevolg van El Nino en 'n skoenlapper wat êrens in Antarktika wegkruip.

Hier in Engeland weer, is dit die teenoorgestelde. As dit sneeu, gaan staan publieke vervoer, die M25 parkeer garage word gesluit en almal besluit om lughawe toe te gaan en te kyk of EasyJet nie dalk goedkoop vlugte Europa toe het nie (EasyJet se vliegtuie is natuurlik die enigste lugredery waarvan die vliegtuie almal toegerus is met snowchains op hulle wiele en die loodse almal alumni van Yoda's School for Pilots is)

Maar, soos almal weet - when in Rome...so besluit ons toe dat hierdie winter sal ons die ski oorde van Europa aandurf.

Die mees basiese tegniek in ski is die snow plough; die doel is om jou spoed te beheer deur die punte van jou ski's namekaar toe te wys (soos 'n omgekeerde "v") en druk toe te pas met jou bene om te stop of rigting te verander. Ongelukkig werk hierdie tegniek net tot op 'n punt en voor jy jou kan kry, raak dit soos duinebord ry - knyp jou oë toe, lig jou tone en hou jou mond toe om te keer dat jy nie te veel krappe insluk as jy die rivier tref nie.

In ski is die lyn tussen selfvertroue en windgat baie dof en as jy nie oppas nie, verloor "windgat" baie gou sy wind. Dit voel asof hierdie metamorfose teen super slow-mo gebeur, maar eintlik gebeur dit moer vinnig en kan die fases kortweg as volg beskryf word..

Genot...hel maar ski is lekker...

Selfvertroue...dis makliker as wat ek gedink het...

Waaghalsigheid...dis moer maklik...

Twyfel...oops...

Vrees...o f**...

Suiwer angs...F**KIT!!!!!

...en dan die euforiese cocktail van pyn en verligting waneer jy besef dat hoewel jy nie jou been kan voel nie, jy darem nog 'n skoon broek het!


Gaat je geweldig!

Saturday, February 25, 2006

Braaivleis, sonskyn & staaldraad...

53 letsels teenoor 3
Bourekenkunde is nou nie een van die mees interessante beroepskeuses wat daar is nie - toerbus bestuurder in die Vrystaat is byvoorbeeld meer opwindend - maar daar is tog 'n paar "perks" wat saam met die werk kom.

By my vorige werk in Leeds, was dit baie maklik om 'n kaartjie te kry as een of ander Suid-Afrikaanse span hier kom toer. Ek wonder soms of die beskikbaarheid van kaartjies nie maar net was omdat die 400,000 of so van ons wat hier is, al gatvol geraak het om in die reën te sit en sien hoe politiek, onbehepte adminstrasie en gulsige beroepspelers besig is om SA Rugby in sy moer te stuur nie.

Deesdae is my travel perks bietjie beter. Hoewel (te danke aan Jake?) die rugbykaartjies deesdae opgedroog het, reis ek by geleentheid na eksotiese plekke soos die Algarve, Midde Ooste en Essex en bly ek in hotelle soos die Sheraton, Marriott en The Pig's Bladder; in plaas van 'n Travel Inn langs die M6.

So was ek onlangs vir 'n week in Qatar.

Die hele konstruksie bedryf in Qatar se bestuur bestaan uit Britse expats - so mens hoef glad nie Arabies te verstaan nie en alle besigheid geskied in Engels. Die enigste ding wat mens moet onthou is dat drie nommers op 'n motor se nommerplaat 'n sheik is en vier nommers sy neef, oom, broer, kleinseun, klein neef, grootoom of enige ander lid van sy familie-struik kan wees - en hulle ALMAL laat SA taxibus bestuurders na Hoke Colburn uit "Driving Miss Daisy" lyk; wat beteken hulle ry met (onsigbare) toegee-tekens op hulle karre rond.

Qatar het net een noemenswaardige stad, Doha waar die koloniale leefstyl nog gesond onder die expats is. Almal hou partytjies bygewoon deur kollegas, ander expats, mense van die Ambassade en enige ander besoekers uit "Blightey" wat op daai stadium in Doha is. So word ons groep toe ook die een aand uitgenooi na 'n "barbeque" by een van die ouens se huis. Die ding van Britse "barbeques", is dat indien daar 'n Suid-Afrikaner by een van hierdie "barbeques" is, sal van hom (of haar!) verwag word om te braai.

Nou ja, na ses jaar hier op Lizzie se Klip moes ek ook van beter geweet het. Hier daag ek by die braai op en kom op 'n toneel uit "Out of Africa" af - silver service by die tafels, kelners en ek, geklee in my jeans, plakkies en t-hemp wat vir die wêreld verkondig,

"Kamp Staaldraad - outwitted, outplayed, came last!"

Gaat je geweldig!

Saturday, January 28, 2006

What's in a name?

Een van DAAI stories...

So, ek het ook nou 'n blog.

Maar wat is 'n blog nou eintlik veronderstel om te wees? Die woord blog is 'n verkorting van "web log". M.a.w dis een of ander rekord wat op die Internet gepubliseer word en gewoonlik is dit menings, nuus berigte, stories, rubrieke ens; en omdat dit op die Internet is, is dit ook gewoonlik "freedom of speech" in sy suiwerste vorm.

Anna Neethling-Pohl het op 'n tyd vir Patrick Mynhard gesê "Kind, jy moet al hierdie kak wat jy praat neerskryf", wat nogals baie verskil van wat gewoonlik vir my gesê word as ek kak praat. Maar net soos die Boy van Bethulie haar woorde ter harte geneem het, het ek ook maar besluit om te doen wat een of twee van julle ook al vir my gesê het - dus die geboorte van Soutie Stories.

'n Mens kan my seker maar 'n soutie noem, want hoewel ek nou al vir amper 6 jaar hier in die UK woon, is my een voet nog steeds in die branders aan die suidpunt van Afrika en my kinders gaan almal dink hulle is visse...

Stories het ek ook baie om te vertel, maar omdat my ma seker ook hier gaan lees, sal ek 'n vorm van sensuur moet toepas en die res vir julle maar eendag om 'n vuur kom vertel.

En julle? Julle kan kontak hou deur op die "comments" te click. Asseblief - hou dit skoon. My ma gaan hier lees!

Gaat je geweldig!

Wednesday, January 18, 2006

Die begin...of is dit die einde?

Wel, ek het toe ook op die ou end besluit op 'n "blog" om mense op hoogte te hou van my doen en late. Dalk is dit 'n bietjie te laat aangesien ek binnekort teruggaan Port Elizabeth toe, en daar weet ALMAL in elk geval van jou doen en late.

Maar tot dan, kan julle hier kom lees hoe ek my laaste paar dae op Lizzie se Klip spandeer.

Gaat je geweldig!