Friday, April 28, 2006

Ons sal lewe, ons sal swerwe...

Always rehydrate when traveling...
Die eerste keer wat ek Doha toe was, was 'n maand of twee nadat 'n bom by 'n hotel naby die Britse Ambassade ontplof het. Die oomblik toe ek van daardie vliegtuig afgeklim het, het ek orals om my "Stryders vir Islam" gesien. Dit was eers na 'n paar dae dat die skille van jare se blootstelling aan Westerse media, van my oë afgeval het en ek besef het dat daar nie 'n AK onder die wit gewade verskuil is nie en dit is hoe die mense normaalweg aantrek.

Dink mens weer aan gebeure soos 9/11 of die onlangse bom aanvalle in Dahab, dan word die saad van bevooroordeling weereens geplant en jy wonder by jouself hoe naïef mense kan wees om te dink dat hulle 70 maagde (eintlik is dit 72, maar ek dink die ou wat die hele konsep aan die "martelaars" verkoop het, kry 'n kommissie) in die hiernamaals sal hê as hulle 'n vlooimark vol handelaars, kinders, toeriste (en hulself in die proses) gaan opblaas; daai sade word dan bome wat vrugte dra en voor jy jou kan kry, gaan skyt die voëls in 'n ander werf en daar begin 'n heel nuwe boompie groei.

Ek kan insien hoe die verloop van jare sedert die Eerste Kruistog geloof, nasionalisme, vervolging en onderdrukking die Midde Ooste in 'n kookpot van een globale f**op verander het en dat daar nie 'n maklike oplossing is nie. George Bush se Roadmap for Peace in the Middle East, kan net so maklik 'n analogie van Hitler se Mein Kampf wees en selfs dan is die onderskeiding tussen die Westerse en die Oosterse ideoloë bietjie dof; as mens so na die media uitlatings van die Iranese president kyk, is dit maklik om te glo dat hy self onlangs 'n kopie van Endlösung der Judenfrage onder oë gehad het.

Tog kan ek nie anders om te dink dat leiers soos George Bush en Mahmoud Ahmadinejad maar net soos hoenders op hulle eie mishope is nie. Die meerderheid van ons loop rustig tussen die mishope deur en skrop oor die hele werf rond, tevrede met 'n nuwe identiteit as "wêreldburgers" en werk die hele wêreld oor. Die laaste keer toe ek Die Beeld gelees het van minder as 'n dag oud, was 5 weke gelede op Dubai lughawe terwyl ek gewag het vir my konneksie vlug terug na die UK nadat ek in Qatar was vir 'n projek names 'n Britse Regerings-departement.

En die werf het nou nog groter geraak vir my, want deesdae waai ek saam met ander Suid-Afrikaners soos die Du Toit's, Steyns en Slabbers, my splinternuwe rooi/pers dompas onder die Immigrasie Beamptes op Heathrow se neuse...

Gaat je geweldig!