Monday, March 13, 2006

In die voetspore van die Yeti

Sneeu is harder as wat mens dink...
Sneeu en ys is nie juis iets waarmee die gemiddelde Suid-Afrikaner bekend is nie; inteendeel, dit is grotendeels 'n eienaardigheid. Die enigste rede hoekom die jaarlikse Cederberg Sneeu-smurfie-bou kompetisie gehou kan word, is as gevolg van El Nino en 'n skoenlapper wat êrens in Antarktika wegkruip.

Hier in Engeland weer, is dit die teenoorgestelde. As dit sneeu, gaan staan publieke vervoer, die M25 parkeer garage word gesluit en almal besluit om lughawe toe te gaan en te kyk of EasyJet nie dalk goedkoop vlugte Europa toe het nie (EasyJet se vliegtuie is natuurlik die enigste lugredery waarvan die vliegtuie almal toegerus is met snowchains op hulle wiele en die loodse almal alumni van Yoda's School for Pilots is)

Maar, soos almal weet - when in Rome...so besluit ons toe dat hierdie winter sal ons die ski oorde van Europa aandurf.

Die mees basiese tegniek in ski is die snow plough; die doel is om jou spoed te beheer deur die punte van jou ski's namekaar toe te wys (soos 'n omgekeerde "v") en druk toe te pas met jou bene om te stop of rigting te verander. Ongelukkig werk hierdie tegniek net tot op 'n punt en voor jy jou kan kry, raak dit soos duinebord ry - knyp jou oë toe, lig jou tone en hou jou mond toe om te keer dat jy nie te veel krappe insluk as jy die rivier tref nie.

In ski is die lyn tussen selfvertroue en windgat baie dof en as jy nie oppas nie, verloor "windgat" baie gou sy wind. Dit voel asof hierdie metamorfose teen super slow-mo gebeur, maar eintlik gebeur dit moer vinnig en kan die fases kortweg as volg beskryf word..

Genot...hel maar ski is lekker...

Selfvertroue...dis makliker as wat ek gedink het...

Waaghalsigheid...dis moer maklik...

Twyfel...oops...

Vrees...o f**...

Suiwer angs...F**KIT!!!!!

...en dan die euforiese cocktail van pyn en verligting waneer jy besef dat hoewel jy nie jou been kan voel nie, jy darem nog 'n skoon broek het!


Gaat je geweldig!